Geen gratis busritte wanneer herlaaipunte van lyn af is nie

A street map of the Pacaltsdorp area indicating with a location pin the location of Smart Card top-up vendors in the area.

Pacaltsdorp het die hoogste konsentrasie herlaaipunte met talle alternatiewe vir passasiers wat wil herlaai wanneer 'n gekose onderneming van lyn af is.

Die GO GEORGE Slimkaartstelsel laat passasiers toe om hul vervoeruitgawes te bestuur en selfs nog meer te bespaar op die reeds bekostigbare koste om per bus te reis. Met goeie beplanning is hierdie kontantlose manier om op die bus te klim gerieflik én in ooreenstemming met Covid-19-veiligheidsvoorsorgmaatreëls.

Soos met enige ander aanlyn-besigheidstelsels soos krediet- of debietkaartaankope, kom tegniese foute tussen die onderneming en die bank wel van tyd tot tyd voor. GO GEORGE het geen beheer hieroor nie
en raai passasiers sterk aan om hul kaarte te herlaai voordat alle ritte opgebruik is. Passasiers sal nie toegelaat word om gratis op ‘n bus te klim net omdat hulle nie op pad na die bus kon herlaai nie.

Misbruik van stelsel sal nie toegelaat word nie

Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, is die aanvanklike probleem van herlaaipunte in Pacaltsdorp wat herhaaldelik van lyn af was, aangespreek deur verskeie ingrypings. “Dit was ‘n groot bron van kommer, maar ons is tevrede dat die tegniese tekortkominge wat onder ons aandag gebring is, reggestel is. Ongelukkig misbruik sommige passasiers nou die toegewings wat destyds gemaak is deur gratis ritte te eis wanneer hulle nie betyds herlaai het nie. Die enigste keer wanneer gratis ritte oorweeg mag word, is wanneer alle verkopers van lyn af is, en eers ná verifikasie,” het Robb gesê.

Herlaai voordat jou ritte op is

Vir passasiers se gerief en as ‘n manier om sakegeleenthede te skep, word onafhanklike besighede regoor die dorp en in woongebiede geregistreer om as Slimkaartherlaai-agente op te tree, bykomend tot hul hoofbesigheid. Passasiers word aangemoedig om hierdie plaaslike besighede te ondersteun, maar hulle kan ook hul kaarte by enige van die vaste of mobiele GO GEORGE Slimkaartkiosks herlaai.

Goedkoper hoe meer jy koop

Slimkaartritte wat in bondels van 10 of meer gekoop word, kos R10 per rit, bondels van twee tot agt ritte kos R11 per rit en enkelritte kos R12. ‘n Passasier wat die bus vyf dae per week gebruik, kan tot R88 per maand bespaar deur bondels van 10 ritte en meer te koop, in plaas daarvan om een rit op ‘n slag te laai.

Ritte op die Slimkaart verval nooit nie, so daar is geen risiko om ritte te verloor nie, selfs al ry jy nie gereeld bus nie.

Vir meer inligting oor die busdiens, jou naaste herlaaipunt of die mobiele kiosk se skedule, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044.


Previous Article

Next Article