Met Oktober wat as nasionale vervoermaand sowel as die maand vir bewusmaking van geestesgesondheid verklaar is, was dit onafwendbaar dat GO GEORGE se gelukbringer, Georgie, ‘n draai sou maak by die jongspan met verskillende tipes uitdagings by die Legacy-sentrum in Denneoord.
Georgie het gehoor van Legacy-sentrum se bewusmakingsveldtog, “Kinders met spesiale behoeftes is anders, NIE minderwaardig nie!”, en hul suigstokkieprojek om geld in te samel om bewusmaking van hierdie kinders te skep. Toe hy boonop uitvind dat die Môreson-kinders wat tuisskoling ontvang verlede Vrydag by Legacy sou gaan kuier, was daar geen keer aan hom nie.
Die kinders was hoogs opgewonde toe Georgie om die hoek verskyn en het vrolik saam met hom gedans en “Die wiele van die bus draai om en om” gesing. Georgie het interessante inligting omtrent die busse met die kinders gedeel en was baie bly om te hoor dat ‘n hele paar van hulle gereelde GO GEORGE-passasiers is.


