PACALTSDORP ROADWORKS

Road upgrades starting in Pacaltsdorp on Monday 14 October 2024 will impact several GO GEORGE bus routes.

GO GEORGE betree industriële teater

13
Aug '19
PW-leerders geniet die toneelspel
Hierdie leerders van PW Botha Kollege geniet duidelik die humor en spitsvondigheid van die "ware lewe"-drama wat deur die drama-groep van die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes op die planke gebring is.

Die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes (“champions”) weet dat hulle ondersteuning en hulp aan die passasiers waardeer word, maar om juigende applous te kry vir hul pogings is nie iets wat elke dag gebeur nie! ’n Nuwe kommunikasieveldtog wat ’n besoek deur drama-groepe aan skole insluit, skop hierdie kwartaal ’n baie opwindende era in die aanbieding van inligting oor die plaaslike busdiens af.

Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, moes die kommunikasiespan kreatief dink oor die oordrag van ’n boodskap wat nie altyd lekker is om te hoor nie. “Ons ontvang ongelukkig heelwat klagtes van passasiers oor oneerbiedige gedrag op die busse en by die bushaltes. Dit, tesame met die sinnelose vandalisme van die busdiens se infrastruktuur, het ons laat besluit om in hul taal met die jongklomp te praat om hulle samewerking te kry,” sê Robb. “En dit lyk asof ons die regte snare tokkel, geoordeel aan die deelname van die gehoor en die mate waartoe hulle die fyn humor geniet. Dis nog te vroeg om te sê, maar indien ons vind dat hierdie metode doeltreffend is, sal ons dit beslis in die toekoms meer gebruik om belangrike boodskappe by die publiek tuis te bring.”

Dit was glad nie moeilik om genoeg vrywillige akteurs en talentvolle komediante vir ’n kort toneelopvoering tussen die passasiersdiensbeamptes te vind nie. Daar moes trouens oudisies gehou word om te kyk wie in die eerste “konsert” ’n beurt gaan kry, en die natuurlike talent het almal verras.

 

Vandalis betrap op heter daad
’n “Vandalis” word op heter daad betrap deur die passasiersdiensbeampte wat hom goed afransel en diep laat dink oor sy optrede.

 

Die terugvoer van die hoërskole wat reeds besoek is, was oorweldigend positief. Buiten dat die leerders die spitsvondige aanbieding “in hul taal” geniet, daarmee vereenselwig en dit ter harte neem, sê skoolhoofde dat die boodskap van respek vir ander mense en vir openbare eiendom universeel van toepassing is en verwelkom word.

Die kommunikasiespan is besig om afsprake te maak by al die hoërskole in die dorp, en sal later ook die laerskole met toepaslike temas besoek. Vir meer inligting, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044.

Latest news