GO GEORGE-busbestuurderstaking opgeskort

George Link (Edms) Bpk, die onafhanklike busbestuursmaatskappy vir GO GEORGE, het die George-munisipaliteit pas ingelig dat hulle ‘n tussentydse hofbevel teen die beplande staking deur GO GEORGE-busbestuurders vanaf vanmiddag 14:30 verkry het. George Link het voorts ook ‘n kennisgewing van opskorting van die staking van die unie ontvang.

GO GEORGE wil daarom alle passasiers inlig dat geen verandering aan die normale dienste soos wat verwag is vir Donderdag, 28 Julie, voorsien word nie. Die busdiens sal vanaf 14:30 vandag voortgaan om volgens die normale skedules en roetes ry..

James Robb, GO GEORGE-bestuurder, maak weer verskoning teenoor GO GEORGE-passasiers vir enige ongerief. “Ons verseker ons passasiers dat ons die huidige situasie fyn sal monitor en hulle betyds in kennis sal stel van enige veranderinge aan die diens. Soos altyd, is die veiligheid van die publiek, ons passasiers, personeel en voertuie van opperste belang en hou ons dit in gedagte wanneer ons bedryfsbesluite neem,” sê hy.

Die nuutste inligting sal aan passasiers verskaf word deur die plaaslike media, die GO GEORGE Facebook-blad. Passasiers word versoek om die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel met enige navrae.


Previous Article

Next Article