GO GEORGE-busse na Thembalethu op 11 Desember

27
Oct '16

“Dit gee vandag vir my groot vreugde om te kan aankondig dat die GO GEORGE-busdiens op Sondag, 11 Desember 2016, na ons inwoners in Thembalethu uitrol!”

Hierdie aankondiging deur George se uitvoerende burgemeester, raadsheer Melvin Naik, by ‘n media-inligtingsessie by die George-vervoerkern vandag, is met groot opgewondenheid ontvang.

Inwoners van die gebiede in Fase 4 wag die busdiens gretig in. Op grond van ‘n raadsbesluit vroeër vandeesmaand is daar ook vandag aangekondig dat die implementering van Fase 4 in twee verdeel sal word om dié groot uitbreiding van die diens te akkommodeer. Met die uitrol van Fase 4A sal die inwoners van Thembalethu hul busse in Desember kry, terwyl die res van die woonbuurte – Conville, Parkdene, Borcherds en Lawaaikamp – deel van Fase 4B sal uitmaak, en deel van die stelsel sal word vroeg in 2017, sodra Fase 4A gevestig is.

Raadsheer Naik het hierdie aankondiging gekoppel aan die middedorp-roeteverfynings van die drie hoofroetes uit Pacaltsdorp wat op Sondag, 6 November 2016 geïmplementeer word. Hierdie roeteverandering sal bushaltes en passasiers oor ‘n wyer deel van die middedorp versprei en hulle sodoende nader aan hul werksplekke en skole op- en aflaai.

Lede van die media het die voorreg gehad om op ‘n toer deur die konstruksieperseel van die George-vervoerkern begelei te word. Hierdie nuwe onderdak-sentrum wat R15 miljoen kos, sal ses bushaltes en laaigebiede, twee ingange, hoë-sekuriteit kaartjiekantore, toilette, ‘n inligtingsentrum, 231 gemaklike sitplekke, handrelings om passasiers wat in rye wag van die busse te skei, fietsrakke en skadubome insluit. ‘n Belangrike ontwerpbeginsel is die universele toeganklikheid vir mense met spesiale behoeftes, soos tikrelings vir mense met beperkte visie.

Energiebesparing word meegebring deur natuurlike lig en -ventilasie te gebruik, en lae waterverbruik-toilette kry punte aan die groen kant. Die gegalvaniseerde staal-struktuur en afwerkings dra by tot lae instandhoudingskoste.

Raadsheer Naik het ‘n feesviering op 10 Desember 2016, wanneer die George-vervoerkern in gebruik geneem word, belowe. “Stedelike vernuwing en herlewing van die middedorp is ‘n belangrike hoeksteen van die strategiese sake-ontwikkelingsplan vir George – en GO GEORGE en die vervoerkern vorm ‘n integrale deel van hierdie herlewingsaksie. Intussen bedank ons passasiers vir hul geduld en samewerking tydens die konstruksieperiode.  Ek twyfel nie vir ‘n oomblik nie, dat dit die wag gaan werd wees wanneer ons almal eers die gerief van ‘n ordentlike, gerieflike passasiersdiensfasiliteit geniet.”

Latest news