GO GEORGE doen ‘n beroep op passasiers om versigtig te bly

Champions lig passasiers in oor Covid veiligheidsmaatreëls

GO GEORGE-passasiersdiensbeampte Dieketseng Mosesane (regs) demonstreer aan Dorette Salmans hoe om die reinigerpompie in die bus te gebruik wanneer sy opklim. Passasiersdienspersoneel beklemtoon tans ook die belangrikheid daarvan om 'n gesigmasker op die regte manier te dra, wat ook die draer se neus bedek.

Met ‘n 196%-toename in Covid-19-gevalle in die Tuinroete die afgelope weke, doen GO GEORGE ‘n dringende beroep op buspassasiers om aan die Covid-19-veiligheidsregulasies rakende openbare vervoer gehoor te gee en nie in hierdie stadium hul waaksaamheid te verslap nie.

Die Garden Route-distriksmunisipaliteit se direkteur van gesondheid, Zee Brickles, het verlede week ‘n verklaring uitgereik oor die styging in infeksies met ‘n waarskuwing oor ‘n moontlike tweede golf.

“Dit was sewe lang maande van inperking en die natuurlike reaksie op die verligting van hierdie beperkings is om alles in te haal wat ons die afgelope maande misgeloop het, maar ons kan nie nou gerus word nie. Die vrees was nog altyd daar dat wanneer die inperkings verslap word, die infeksiekoers sal toeneem,” het Brickles gesê.

Geen masker, geen toegang

Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, is die verslapte waaksaamheid van buspassasiers ook opvallend sedert vlak 1 van die inperking aangekondig is. “Passasiers probeer óf om sonder maskers op die bus te klim, óf hulle haal dit af sodra hulle gaan sit. Baie min dra die masker oor hul mond asook neus, wat noodsaaklik is vir doeltreffende beskerming,” het hy gesê. “Ons doen ‘n beroep op hulle om verantwoordelik op te tree, vir hul eie onthalwe asook dié van medepassasiers en busbestuurders. ‘n Passasier sonder ‘n masker sal nie op ‘n GO GEORGE-bus toegelaat word nie en moenie met ons busbestuurders daaroor redeneer nie.”

GO GEORGE het begin met ‘n veldtog om passasiers aan te moedig om steeds waaksaam te bly en hul samewerking te kry met die basiese veiligheidsmaatreëls: die dra van ‘n masker op die regte manier, ontsmetting en was van hande, ‘n veilige afstand tussen mense, die oophou van busvensters, om nie onnodig of wanneer jy siek is bus te ry nie, en in ‘n gebuigde elmboog te hoes en te nies.

GO GEORGE-passasiersdienspersoneel praat met passasiers by bushaltes, die vervoerkern (Hub) en op die busse om hulle te herinner aan die belangrikheid van voortgesette nakoming van die veiligheidsmaatreëls. Ondersteunende mediaveldtogte word ook gebruik om die boodskap te versterk: Die pandemie is nog nie verby nie – bly waaksaam!


Previous Article

Next Article