Slegs enkelkaartjie by verkoopspunte buite bus word 50c meer
Die George-munisipaliteit het ’n verhoging in die prys van slegs een van die drie GO GEORGE-buskaartjies aangekondig vanaf 1 Julie 2017. Die groen enkelkaartjie wat by verkoopspunte buite die bus verkoop word, sal 50c meer kos vanaf 1 Julie, en dus verkoop teen R9.50. Die ander twee kaartjies, die enkelkaartjie wat op die bus gekoop word en die multiritkaartjie, se pryse bly onveranderd. GO GEORGE bly daartoe verbind om ’n bekostigbare diens aan alle passasiers te bied.
Hierdie verhoging is deel van die jaarlikse munisipale tariefaanpassings en die stadsraad het na versigtige oorweging besluit om die verhoging tot net een van die drie buskaartjies te beperk. Die jaarlikse verhoging wat in Julie 2016 toegepas moes word, is eers in Februarie vanjaar geïmplementeer. Inflasie en stygende bedryfskoste binne die huidige ekonomiese klimaat maak dit egter vir die munisipaliteit onmoontlik om die verhoging geheel en al oor te slaan.
Dit sal steeds goedkoper wees om vooraf te koop
’n Multiritkaartjie met 10 ritte kan slegs vooraf by verkoopspunte buite die bus gekoop word en kos R85, of R8.50 per rit. Enkelkaartjies wat op die bus gekoop word, kos R10. Passasiers word aangemoedig om hul kaartjies vooraf te koop voordat hulle op die bus klim om opklimtyd te spaar en die stelsel te help om op skedule te bly.
Vanaf 1 Julie sal verkoopspunte net die nuwe enkelkaartjies verkoop, asook die onveranderde multiritkaartjies. Geen ou kaartjies sal aanvaar word na 30 Junie 2017 nie.