PACALTSDORP ROADWORKS

Road upgrades starting in Pacaltsdorp on Monday 14 October 2024 will impact several GO GEORGE bus routes.

GO GEORGE lig beperkte diens

28
Aug '20
GO GEORGE busse op die pad
GO GEORGE-busse keer terug na verskeie roetes wat onaktief was sedert die begin van die nasionale inperking in Maart, terwyl die diens ook weer volgens die normale roosters sal funksioneer.

Normale roosters, meer roetes en 100% kapasiteit

Met die onlangse implementering van Vlak 2 van die nasionale inperking, sal GO GEORGE die beperkte diens vanaf Sondag 30 Augustus 2020 begin verlig. Die aankondiging volg op indringende gesprekke tussen belanghebbendes oor die gereedheid van die busdiens en beskikbare personeel om bedrywighede na die normale skedule terug te neem.

Op Sondag 30 Augustus 2020 sal Roete 24 CBD-Loerie Park-Mall heringestel word en volgens die beperkte rooster ry, soos die ander aktiewe roetes. Beperking op kapasiteit word terselfdertyd opgehef, met sittende sowel as staande passasiers wat toegelaat word totdat die bus 100% kapasiteit bereik het. Sosiale distansiëring bly 'n veiligheidsmaatreël in en om die busse en busgeriewe. Passasiers wat nie gemaklik voel om op ‘n vol bus te klim nie, word aangemoedig om 'n later bus te neem en nie tydens spitstye te reis indien moontlik nie.

Vanaf Sondag 6 September 2020 sal die diens terugkeer na die normale roosters, maar met die laaste ritte van die dag wat om 20:00 vertrek en nie om 21:00 soos gewoonlik nie.

Nog drie roetes sal ook op 6 September teruggebring word: Roete 61 Pacaltsdorp Community, Roete 18 Parkdene – Blanco, en Roete 13 City Loop. Die twee oorblywende onaktiewe roetes – 53B Rosemoor Express en 58 Heather Park Heatherlands – sal eers later heringestel word.

GO GEORGE-veiligheidsmaatreëls steeds in plek

Bestuurders en passasiers moet steeds maskers dra op die bus en hul hande gereeld was of ontsmet. Houers met ontsmettingsmiddel is vir die gerief en veiligheid van passasiers op alle busse geïnstalleer.

By die George Link-depot bly die streng skoonmaak- en ontsmettingsroetine onveranderd met die binnekant van busse wat voor en ná elke diensrondte onsmet word.

Om goeie ventilasie te verseker, word alle vensters oopgemaak wanneer die busse die depot verlaat, en passasiers word versoek om nie die vensters toe te maak nie, maar eerder warm aan te trek.

Burgemeester bring hulde aan George Link

George se uitvoerende burgemeester, raadsheer Leon van Wyk, het die munisipaliteit se waardering uitgespreek vir die manier waarop die bestuur en personeel van George Link, die voertuigbedryfsmaatskappy vir GO GEORGE, hul pligte onder baie moeilike omstandighede verrig het.

“Die volharding en toewyding van elke skoonmaker, tegnikus, drywer, beplanner, bestuurder – elke enkele personeellid – verdien die respek van die George-gemeenskap,” het Van Wyk
gesê. “Sommige dae was tot 70 personeellede afwesig van die werk; daar was dae dat 60 bestuurders terselfdertyd van diens af was, hetsy positief met die Covid-19-virus, of in isolasie omdat hulle in kontak was met siek mense. Twee bestuurders het hul lewens verloor in die uitvoering van hul pligte. Namens ons gemeenskap bedank ek elke werker wat die wiele aan die rol hou. Kom ons gee erkenning aan hul opoffering en doen alles wat ons kan om onsself én hulle veilig te hou deur by die veiligheidsmaatreëls te hou terwyl ons terugkeer na ‘n byna normale diens.”

Vir meer inligting, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 waar agente van 05:00 tot 20:00, sewe dae per week, aan diens is. Die jongste diensinligting is ook beskikbaar op die GO GEORGE Facebook-blad, of kan verkry word deur ‘n e-pos te stuur aan info@gogeorge.org.za.

Latest news