GO GEORGE-model deur ander munisipaliteite bestudeer

Msunduzi-groep

GO GEORGE se gemeenskapskakelbeampte, Simphiwe Schaap, het die Msunduzi-afvaardiging begelei op ’n toer wat die busdepot en die vervoerkern in die middedorp ingesluit het. Hy het verduidelik hoe die stelsel werk en kenmerke van universele toeganklikheid by die bushaltes en op die busse uitgewys.

’n Afvaardiging van die Msunduzi-munisipaliteit uit Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal het onlangs ’n tweede besoek aan GO GEORGE gebring. Dié munisipaliteit was drie jaar gelede deel van ’n groter groepsbesoek van belangstellende munisipaliteite, maar hierdie keer het hulle munisipale amptenare, politieke verteenwoordigers en verteenwoordigers van die taxi- en busbedryf saam gebring.

Die doel van dié tweede besoek was om meer uit te vind van die institusionele en kontraktuele funksies van die George Geïntegreerde Openbare Vervoernetwerk (GIPTN), asook infrastruktuur-opsies wat oorweeg en geïmplementeer is deur GO GEORGE.

Volgens Lindelwa Mngenela, waarnemende hoof van die Msunduzi IRPTN, beplan hulle om die eerste fase teen Desember 2020 uit te rol.

“Ons het die netwerk wat regoor die stad strek in 2013 begin beplan, maar ná ’n instruksie van die nasionale departement van vervoer om bedrywighede te bespoedig vir die 2019/2020 finansiële jaar, moes ons die aanvang van ons diens uitwerk om gehoor te gee hieraan terwyl ons nog besig is om paaie te verbreed vir die eerste fase,” sê Mngenela.

“Daar is ’n oproep van die departement dat stede die implementering van infrastruktuur moet afskaal en eers op die bedryf van die busdiens moet fokus, en dan moet bou terwyl die diens bedryf word. GO GEORGE was die perfekte voorbeeld vir ons om te besoek aangesien hul benadering presies dit is: bedryf, monitor, en verbeter dan. Ons kon leer van die lesse wat GO GEORGE reeds geleer het.”

Msunduzi-gidstoer

Die Pietermaritzbug-besoekers het waardevolle inligting bekom tydens die studietoer en die geleentheid gebruik om vrae te vra en insig te kry in die infrastruktuur en institusionele en kontraktuele funksies wat deur GO GEORGE geïmplementeer is.

 

Mnengela sê dit was ‘n goeie ding dat lede van hul openbare vervoerbedryf saamgekom het. “Hulle het ook baie gebaat deur die voertuigbedryfsmaatskappy se werksaamhede te bestudeer, hoe hulle saam met die munisipaliteit werk om konflik op te los en ook van die begin af eienaarskap van die projek te neem.”

Op ’n vraag of daar iets spesifieks in die GO GEORGE-projek was wat haar oog gevang en haar beïndruk het, het sy dadelik die vloot van universeel-toeganklike minibusse genoem.

Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, is die aangepaste minibusse inderdaad uniek en die eerste minibusse in openbare vervoer met hierdie vlak van toeganklikheid in Suid-Afrika. “Hulle steel gedurig die kalklig en ons is inderdaad uiters trots op die ontwerp wat in samewerking met munisipale ingenieurs in ons span gedoen is. Terwyl ons groter busse ’n hidrouliese loopvlak gebruik om passasiers met spesiale behoeftes te akkommodeer, ontplooi ons minibus ’n hidrouliese hyser met ’n platform vir rolstoele, babawaentjies of enige persoon met uitdagings ten opsigte van beweeglikheid.”


Previous Article

Next Article