GO GEORGE moedig veilige gedrag aan gedurende vakansieseisoen

Lede van die GO GEORGE-span en amptenare van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke by 'n padblokkade vroeër vandeesweek. Dit was een van die vele geïntegreerde veiligheidsopvoedingsveldtogte wat oor die feestyd beplan word. Van links is James Robb (GO GEORGE-bestuurder), Thandokazi Joka (GO GEORGE-passasiersdiensbeampte) en Lulamile Lakata (assistentdirekteur verantwoordelik vir padveiligheid in die direktoraat Padveiligheidsbestuur, Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke).

Met die vakansieseisoen wat weer vakansiegangers van regoor die land na die Tuinroete lok, het GO GEORGE met ‘n pad- en passasiersveiligheidsprogram begin om plaaslike inwoners sowel as besoekers te herinner om waaksaam te wees en veilig te bly.

“Nie alle besoekers aan ons dorp is gewoond aan ‘n openbare busdiens en die impak wat so ‘n diens op verkeer het nie, en hoe om die pad veilig te deel met groot busse wat in die rybaan stop nie,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Indien hulle sou besluit om van ons diens gebruik te maak, het ons ook hul samewerking nodig om te alle tye aan Covid-19-veiligheidsmaatreëls te voldoen. Ons verwelkom elke besoeker en wil hê hulle moet ‘n welverdiende vakansie geniet sonder om hul gesondheid en veiligheid in gevaar te stel.”

GO GEORGE werk saam met verskeie belanghebbendes, insluitende die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, om hierdie inisiatiewe uit te rol. GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes met pette en lyfbande met Covid-19-veiligheidsboodskappe sal gedurende Desember saam met verkeersbeamptes by verskeie padblokkades in die omgewing van George wees. Hulle sal plakkate dra wat uitbeeld hoe GO GEORGE-busse in die rybaan stop en vertrek en dat dit waaksaamheid en geduld verg, asook dat motoriste versigtig en op die uitkyk moet wees vir voetgangers wat die pad onverwags naby stilstaande busse oorsteek.

Covid-19-veiligheid hoogste prioriteit

“Met George wat tot ‘n Covid-19-brandpunt verklaar is en nuwe gevalle wat tot kommerwekkende vlakke styg, sal ons kommunikasiespan sterk daarop fokus om ons Covid-veiligheidsboodskappe te versterk. Ons het egter nodig dat elke passasier verantwoordelikheid vir hul eie gesondheid en veiligheid neem, met inagneming van almal rondom hulle ook,” sê Robb. “Ons moet na mekaar omsien. Kom ons dra ons maskers korrek sodat beide neus en mond bedek is, en haal hulle vir geen rede af terwyl ons op die bus ry nie. Niemand sal toegelaat word om op ‘n bus te klim sonder ‘n masker nie. Hou ‘n veilige afstand waar moontlik, moenie die busvensters toemaak nie – hulle moet oop bly vir goeie ventilasie, en was of ontsmet jou hande by elke moontlike geleentheid. Hierdie voorsorgmaatreëls is eenvoudig, maklik om vol te hou, en maak ‘n groot verskil.”

Vir enige inligting of bystand rakende die busdiens, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044, hou hierdie webwerf dop, stuur ‘n e-pos aan info@gogeorge.org.za of besoek die GO GEORGE Facebook-blad om op hoogte te bly van die nuutste busverwante nuus.

GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes het vroeër vandeesweek inligtingsplakkate by ‘n padblokkade gebruik om aan besoekers te verduidelik waarvoor om uit te kyk wanneer hulle die stad se strate met die openbare busdiens deel. INSETSEL: Besoekers word versoek om voetgangers, busse wat in die baan stop en Covid-19-veiligheidsvoorsorgmaatreëls in gedagte te hou.


Previous Article