Genoeg busse om feesgangers huis toe te neem, maar net tot 21:00
GO GEORGE sal sekere aanpassings maak aan roetes om die jaarlikse Liggiesfees eerskomende Saterdag, 2 Desember 2017, te akkommodeer. Diensure sal nie verleng word later as die normale skedule nie, maar genoeg busse sal beskikbaar gestel word om almal veilig tuis te besorg ná die aanskakeling van die liggies.
Yorkstraat sal Saterdag vanaf 12:00 tot 22:00 gesluit wees tussen Hiberniastraat en die sirkel voor die George-museum. Die Denneoord-, Rosemoor- en Pacaltsdorp-roetes sal gevolglik vanaf 12:00 daardie deel van Yorkstraat uitskakel. Die noordelike bane van die sirkel sal oop bly vir verkeer en as enkelbane in beide rigtings gebruik word.
Roete 56R Denneoord (antikloksgewys) sal uit Caledonstraat links draai in Courtenaystraat, deur die sirkel ry en regs draai in Meadestraat pleks van Yorkstraat, waarna dit links sal draai in Markstraat en op die gewone roete na die vervoerkern sal ry. Die kloksgewyse roete (53) sal dieselfde roete terug Denneoord toe volg. Denneoord-passasiers wat die fees wil bywoon, kan by die George-biblioteek in Caledonstraat, of die Cathedral B-bushalte (146) by die Oakhurst-hotel in Meadestraat afklim.
Rosemoor se roetes 53 en 53B sal uit Courtenaystraat in Meadestraat links draai pleks van in Yorkstraat, weer links in Markstraat en dan op die normale roete tot by die Rosemoor-bushalte in Cradockstraat. Rosemoor-passasiers wat fees toe gaan, kan by die Wellington-bushalte (565) langs George-voorbereidingskool afklim.
Die Pacaltsdorp-roetes sal uit Yorkstraat regs draai in Markstraat pleks van tot by die sirkel te ry, links in Meadestraat en regs in Courtenaystraat vanwaar die normale roetes gevolg sal word. Die naaste bushalte vir passasiers uit Pacaltsdorp sal Cathedral B (146) by die Oakhurst-hotel wees, en die Meade-halte (149) voor die Moederkerk in Courtenaystraat.
Haal ’n bus huis toe voor 21:00
Inwoners word aangemoedig om van die busdiens gebruik te maak om die feesviering in Yorkstraat en by Eenheidspark by te woon. Passasiers word egter herinner dat die laaste busse tussen 20:00 en 21:00 sal vertrek, volgens hul normale laaste rit-skedule, en dat feesgangers nie tot 21:00 moet wag om plek op ’n bus te probeer kry nie.
Vir verdere navrae, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 of stuur ‘n e-pos na info@gogeorge.org.za.