GO GEORGE het drie verskillende kaartjiepryse aangekondig tydens hul jaarlikse prysverhoging op 1 Februarie 2017. Die denke agter hierdie besluit blyk nou vrugte af te werp met ’n toename in passasiers wat hul kaartjies koop voordat hulle op die bus klim.
Buiten die multiritkaartjie wat vir 10 ritte geld en R85 kos, is daar ook twee verskillende enkelritkaartjies ingestel. Dit was om passasiers aan te moedig om eerder ’n R9-kaartjie te koop by ’n kaartjieverkoopspunt, as om R10 vir ’n kaartjie te betaal wanneer hulle dit by die bestuurder op die bus koop.
Verkoopsyfers van die eerste volledige maand ná die verhoging dui daarop dat kaartjieverkope op die bus in Februarie met 7 persent afgeneem het teenoor Januarie.
“Ons vertrou dat kaartjieverkope buite die bus elke maand sal toeneem. Dis vir ons belangrik om passasiers na kaartjieverkoopspunte te lok sodat verkope op die bus tot die minimum beperk kan word, en uiteindelik uitgefaseer word,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Kaartjieverkope op die bus vertraag die opklimproses en maak dit moeilik om op skedule te bly.”
Om soveel moontlike passasiers toegang tot kaartjieverkope buite die bus te gee, word die geregistreerde verkoopspunte voortdurend uitgebrei. Daar is reeds 38 verkoopspunte regoor die gemeenskap, en verskeie mobiele verkopers bedien sekere bushaltes tydens spitstye. Passasiers moet in gedagte hou dat hulle ook buskaartjies by die George-munisipaliteit kan koop wanneer hulle munisipale rekenings gaan betaal.
Die volledige lys van verkoopspunte is beskikbaar op die tariewe & kaartjies bladsy, maar passasiers is ook welkom om die inbelsentrum te skakel by 0800 044044 om navraag te doen oor die naaste verkoopspunt aan hul huis of werksplek.