Die GO GEORGE-busdiens het op Sondag 22 Maart 2020 uitgebrei na Parkdene, Ballotsview, Conville, Borcherds en Lawaaikamp met drie bykomende hoofroetes en een gemeenskapsroete wat hierdie gebiede met mekaar en die res van die dorp verbind.
Inwoners het die busse met groot afwagting genader om die nuwe roetes te toets. Die meeste ritte op die eerste dag is werk toe en kerk toe onderneem aangesien nie-noodsaaklike ritte tans ontmoedig word in die lig van die Covid-19-viruspandemie. Die driedaagse promosie van gratis ritte vir Slimkaarthouers om die mylpaal te vier, is ook uitgestel om onnodige ritte te bekamp.
Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, hou die projekspan hul oor op die grond vir terugvoer uit die gemeenskap om onmiddellik aanpassings te maak waar nodig.
“Wanneer ‘n informele metode van openbare vervoer met ‘n meer formele, geskeduleerde openbare vervoerstelsel vervang word, bied dit eiesoortige uitdagings in elke gemeenskap gedurende die eerste paar dae, en soms selfs weke. Op grond van inwoners se gebruikspatrone word daar soms roete- en tydroosterveranderings aangebring om ons passasiers se behoeftes aan te spreek. Soos mense die stelsel meer gereeld gebruik, verander hul gebruiks- en aanvraagpatrone. Ons neem dit in ag en streef daarna om, waar moontlik, verbeterings aan te bring totdat hierdie patrone stabiliseer. Spitstye, dit is tussen 05:30 en 08:30, en 15:30 en 18:30, word ook in ag geneem.
“GO GEORGE bedank die gemeenskap vir hul begrip, geduld en voortgesette entoesiasme terwyl ons die kwessies wat ’n vroeër uitrol verhoed het, moes hanteer. Ons is geëerd en bevoorreg om uiteindelik die gemeenskap te kan dien,” sê Robb.
Meer inligting kan verkry word deur die GO GEORGE-inbelsentrum (0800 044 044) te kontak, die roetes hier te sien of die Facebook of Twitter bladsye te besoek.