GO GEORGE logo
Customer care hotline
[wpavefrsz-resizer]

Gratis ritte vir alle Slimkaarthouers wanneer nuwe roetes uitrol

Maryke Burts 4B passasier
Maryke Burts woon in Borcherds en is ’n ou hand as dit kom by die gebruik van haar Slimkaart – sy ry taxi tot in die middedorp en neem van daar af ’n bus werk toe. "Ek kan omtrent nie wag om vir net een rit te betaal wanneer die busse na my buurt toe kom nie. En die verniet ryery – dit voel soos Krismis!" sê sy.

Alle GO GEORGE-passasiers met Slimkaarte sal deel word van die feesviering wanneer die diens uitrol na Parkdene, Ballotsview, Conville, Borcherds en Lawaaikamp op Sondag 22 Maart 2020. Nie slegs die passasiers op die nuwe roetes sal bederf word met drie dae se gratis ritte nie – alle Slimkaarthouers, regoor die stad, sal van 22 tot 24 Maart gratis bus ry wanneer hulle hul Slimkaarte toon met die opklimslag.

“Ons wil die passasiers op ons nuwe roetes aanmoedig om hul GO GEORGE Slimkaarte so gou moontlik te kry en te laai met ritte sodat hulle sommer gereed is wanneer die wiele in hul rigting begin rol,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Dis onnodig om R13 te betaal om ’n kontantrit op die bus te koop as jy so min as R9.50 kan betaal. Wanneer ’n persoon 10 of meer ritte per keer herlaai, is die koste R9.50 per rit, en R10.50 per rit wanneer jy minder as 10 ritte laai – steeds ’n besparing van R2.50.”

Die Slimkaartspan is aktief besig met die werwing van nuwe herlaaipunte (vendors) in die gebiede op die nuwe roetes en GO GEORGE sal hierdie name aankondig sodra hulle gereed is om ritte te begin verkoop.

Intussen kan passasiers hul Slimkaarte by enige van die volgende Slimkaartkiosks koop: Garden Route Mall, George-vervoerkern (Hub) in Cradockstraat, die Blanco-driehoek, in Yorkstraat, asook by die twee Slimkaartvoertuie wat kaarte en ritte verkoop by punte regoor die stad. Die nuwe skedule van die mobiele voertuie is uitgebrei om die areas op die nuwe roetes in te sluit en word op Woensdag 4 Maart geïmplementeer.

Vir kopers wat ’n amptelike vorm van identifikasie kan toon, geld die eerstekaartprys van R21 en sluit steeds twee voorafgelaaide ritte in. Die normale prys van die kaart is R25, sonder enige voorafgelaaide ritte.

Vir meer inligting, soos die nuwe mobiele voertuig-skedule, skakel gerus die GO GEORGE-inbelsentrum op 0800 044 044, stuur ’n e-pos aan info@gogeorge.org.za of besoek die GO GEORGE Facebook-blad waar relevante en handige inligting deurlopend gedeel word.

Latest News

Plan your trip well ahead of time: You should know exactly which route to take, where to get on the bus and what time it will be at your stop to avoid waiting alone at the stop for long periods.
@george_mun

Rules if carriage
No baggage is permitted that may cause injury or offence to other passengers and no baggage items may occupy a standing or seating space.
@george_mun

Load More