Hou presiese bedrag gereed vir kaartjie op die bus

Buy ticket on bus R12

Die enkelkaartjie wat op die bus aangekoop word, kos R12. Passasiers word versoek om die presiese bedrag gereed te hou pleks van groot note wat baie kleingeld vereis, aan te bied.

Die GO GEORGE-busdiens doen ‘n beroep op passasiers om die presiese bedrag geld gereed te hou wanneer hulle ‘n kaartjie op die bus wil koop. Passasiers wat op die bus klim met groot note soos R50, R100 en selfs R200 om ‘n R12-kaartjie te koop, skep ‘n groot uitdaging vir die gladde werking van die stelsel.

Ná die jaarlikse verhoging wat op 1 Julie in werking getree het, kos die enkelkaartjie wat vooraf by geregistreerde verkoopspunte of mobiele verkopers gekoop kan word R10, en die multiritkaartjie met 10 ritte kos R90, wat steeds die goedkoopste keuse is teen R9 per rit. Die enkelkaartjie wat op die bus gekoop word is verhoog na R12, spesifiek om passasiers aan te moedig om liewer hul kaartjies te koop voor hulle op die bus klim.

“Kennisgewings binne die busse en baie gereelde kommunikasie oor hierdie onderwerp beklemtoon hoe belangrik dit vir die effektiewe bestuur van die stelsel is,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder.

“Daar is twee redes hoekom passasiers versoek word om die presiese bedrag gereed te hou. Weens die veiligheidsrisiko wat daarmee gepaardgaan, ry busbestuurders nie rond met groot bedrae kontant nie, so wanneer iemand ‘n groot noot aanbied, word die bestuurder se kontantvoorraad baie vroeg op sy skof reeds uitgeput. Dit neem ook baie tyd om kleingeld uit te deel aan 40 of 60 passasiers terwyl ‘n lang ry mense wag om op te klim – ‘n situasie wat tot vertragings op die skedule lei.

“Passasiers word daarom sterk aangemoedig om hul kaartjies vooraf by geregistreerde verkoopspunte of mobiele verkopers te koop, of om andersins ten minste die presiese bedrag – R12 – gereed te hê wanneer hulle op die bus wil koop,” sê Robb.

Vir ‘n bygewerkte lys van verkoopspunte kan passasiers die webblad www.gogeorge.org.za besoek, ‘n e-pos stuur aan info@gogeorge.org.za, of die GO GEORGE-inbelsentrum skakel by 0800 044 044.


Previous Article

Next Article