‘n Interessante groep van 25 hoërskoolleerders en een skoonheidskoningin het verlede week ‘n taamlike beroering veroorsaak tydens ‘n besigtigingstoer deur die George Link- busdepot van waar die GO GEORGE-busse bedryf word.
Die meeste van die tyd is dit amptelike munisipale afgevaardigdes wat GO GEORGE besoek om meer uit te vind oor die plaaslike bedryf van die busdiens. Hierdie keer is George se junior stadsraad en Mej. Planeet Internasionaal, Monique Best, as deel van GO GEORGE se nasionale vervoermaand-aktiwiteite genooi om van nader te kom kyk en meer uit te vind van die “diens agter die diens”.

Monique, wat ook Vrydag die Jeugambassadeur 2019-toekenning by die George-sakekamer ontvang het, is ‘n oudleerling van Hoërskool Outeniqua en was ten spyte van wye internasionale verantwoordelikhede in terme van bewaringsbewustheid, hierdie maand in George. “As Mej. Planeet Internasionaal ondersteun ek alle pogings wat fokus op die bewaring van ons planeet. Dit is vir my belangrik om te luister na wat groot instansies soos GO GEORGE in plek het om ons natuurlike hulpbronne te respekteer,” sê sy.
Monique was beïndruk deur die reënwaterstelsel wat gebruik word om die busse te was, asook etlike vraghouers wat deur George Link-personeel herwin en herskep is en nou as opleidingsfasiliteite dien, met ‘n kantien volgende op die lys.

Die junior stadsraadslede is vergesel deur hul burgemeestersverteenwoordiger, raadslid Liza Stroebel, en het entoesiasties in die blaastoestel by die sekuriteitsingang geblaas. Hulle was hoogs beïndruk deur die zero-toleransie-beleid van toegang tot die perseel vir enigiemand onder die invloed van alkohol.

Volgens junior burgemeester, Inilé du Toit, was die junior raadslede wat op die busse staatmaak om by die skool te kom “ekstaties om die binnewerkinge van die busdiens te sien”, terwyl diegene wat nie so vertroud is met die busse nie, baie opgewonde was om hul eerste busrit na afloop van die toer te onderneem. “Ons was baie beïndruk met die mate waartoe die busse alle mense akkommodeer, ongeag wat hul fisiese behoeftes of vermoëns is,” sê sy. “Ons as die junior stadsraad sal beslis meer mense aanmoedig om gebruik te maak van die GO GEORGE-busse aangesien dit ‘n kostedoeltreffende en meer omgewingsvriendelike manier van vervoer is. Die besoek aan die depot was ‘n algehele positiewe leerervaring en sal vanjaar ‘n hoogtepunt vir die junior stadsraad bly.”
