Legacy-kinders wag Georgie met groot opgewondenheid in

17
Nov '21
Pret en lekker lag, sing en dans, en natuurlik ... foto's met Georgie! Dit is waaroor 'n kuier van GO GEORGE by Legacy-sentrum gaan.

Dit het ‘n instelling by die Legacy-sentrum in Denneoord geword dat die GO GEORGE-gelukbringer, Georgie, sal gaan kuier gedurende November, die bewusmakingsmaand vir die regte van persone met gestremdhede.

Die opgeruimde jongspan met verskillende soorte uitdagings wat die sentrum bywoon, wedywer opgewonde vir ‘n selfie met hul “vriendelike bus”-maat en geniet dit om te dans en te sing saam met sy vrolike deuntjies. Deur die jare was daar foto’s van Georgie met van die Legacy-kinders wat die eerste keer nog pikkies was en intussen gerek het om nou byna so lank soos Georgie te wees.

Vanjaar het een van die leerders selfs by Ma aangedring om ‘n nuwe uitrusting in die blou en groen kleure van die GO GEORGE-busdiens te kry om vir Georgie se besoek te dra.

Tussen al die pret en lag deur is belangrike reëls oor veiligheid in en om die busse met die kinders gedeel en te oordeel aan die manier waarop ‘n paar gretige wysneuse die aanbieder voorgespring het, het die boodskap al voorheen tuisgekom en vasgesteek.

(Sommige kinders met spesiale behoeftes ervaar sensoriese ongemak wanneer hulle maskers dra. Kinders by Legacy word nie gedwing om maskers te dra nie, maar met ‘n onderwyser/kind-verhouding van een tot drie by die sentrum, is dit redelik maklik vir die onderwysers om ‘n veilige afstand tussen die kinders te handhaaf.)

Migael van Deventer is een van Georgie se oudste vriende en het sy gunsteling gelukbringer in lengte ingehaal sedert hul eerste foto saam geneem is.
Daar is baie maniere om bus te ry! Die kinders by Legacy-sentrum het baie pret gehad met die verskillende foto-agtergronde wat GO GEORGE saamgebring het.
‘n Baie spesiale handgemaakte kaart is aan die GO GEORGE-span wat Legacy Centre besoek het, oorhandig. Die kaart sal deel word van ‘n muur van kinderkuns in die GO GEORGE-kantoor. Die foto toon die agterkant van die kaart: From George … to beyond!

Latest news