NASIONALE VERVOERMAAND – GO GEORGE-statistiek vertel ‘n storie van groei

GO GEORGE busse verlaat depot

GO GEORGE-busse verlaat die depot voor sonsopkoms vir nog ‘n dag se diens.

Die GO GEORGE-busdiens het passasiers oor die afgelope munisipale finansiële jaar oor ‘n afstand van meer as 3,5 miljoen kilometer vervoer. Oor dieselfde tydperk – Julie 2018 tot Junie 2019 – is ‘n totaal van 259 761 ritte bedryf.

Terwyl die regering gedurende Oktober op bewusmaking van vervoer fokus, vier GO GEORGE met trots plaaslike vooruitgang met ‘n blik op die statistieke wat ‘n storie van groei en diens aan die gemeenskap van George vertel.

Busvloot

Die diens het in Desember 2014 met 10 busse weggespring; vandag bestaan die GO GEORGE-vloot uit 54 standaardbusse (wat die nuwe MAN-busse insluit), 33 midibusse en 35 minibusse.

Slimkaartstelsel

Een jaar sedert die verkope van die GO GEORGE Slimkaart in Oktober verlede jaar begin het, is daar tot op datum 22 996 kaarte verkoop. Dit is meer as wat op grond van die aantal passasiers wat die diens op ‘n gereelde basis gebruik, verwag is. Aanduidings is dat die breër gemeenskap kaarte gekoop het om dit byderhand te hê indien hulle by geleentheid die busdiens wil gebruik.

Passasiers

Altesaam 4 123 489 (4,1 miljoen) passasiersritte is oor die afgelope jaar onderneem, met ‘n gemiddeld van 12 481 per weekdag. Die daaglikse gemiddeld vir weekdae het intussen in September tot 13 742 toegeneem.

Infrastruktuur

Die padnetwerk op die huidige 24 roetes wat in fases een tot drie bedryf word, strek tans oor 121 kilometer. Dit is die lengte van die pad gebruik word deur GO GEORGE, ongeag die aantal roetes wat die pad gebruik. Aansienlike opgraderings van paaie op die netwerk is gedoen en sluit paaie wat vir toekomstige ontplooiings voorberei moes word, in.

Busskuilings word geïnstalleer by haltes wat deur hoë volumes opklimmende passasiers gebruik word, sodra ‘n roete gestabiliseer en gebruikerspatrone gevestig is. Tot op hede is 112 basiese skuilings geïnstalleer, waarvan 58 ook toegerus is met ligte. Die eerste groep pasgemaakte skuilings wat vir haltes met hoë verkeer ontwerp is, word tans in Cradockstraat in die omgewing van die Vervoerkern (Hub) geïnstalleer.

James Robb, GO GEORGE-bestuurder, het sy waardering uitgespreek vir die toewyding van alle rolspelers in die ontwikkeling van die busdiens in George. “Ons bly verbind tot ons deel van die regering se plan om bekostigbare en betroubare openbare vervoer na die mense te bring,” sê hy.


Previous Article

Next Article