PACALTSDORP ROADWORKS

Road upgrades starting in Pacaltsdorp on Monday 14 October 2024 will impact several GO GEORGE bus routes.

Tweede GO GEORGE-busbestuurder toets positief vir virus

16
Jun '20

GO GEORGE het bevestig dat ‘n tweede busbestuurder wat vir die busdiens werk, positief getoets is vir Covid-19.

Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, was die bestuurder se laaste skof voor hy siek geword het op Roete 1A New Dawn Park-CBD, op Saterdag 13 Junie 2020, van 15:00 tot 20:00.

“Die bestuurder het Sondag griepagtige simptome begin toon en besluit om mediese hulp te kry eerder as om sy volgende skof aan te pak. Met die ontvangs van die positiewe toetsuitslae is die vereiste protokol gevolg, naamlik om die departemente van gesondheid en arbeid in kennis te stel, en die drywer is in isolasie,” sê Robb.

GO GEORGE-veiligheidsmaatreëls

Bestuurders is verplig om altyd maskers te dra wanneer hulle werk, soos bepaal deur die regulasies van die Rampbestuurswet. Hulle ontsmet hul hande tydens elke stop sodra al die passasiers aan boord is en klaar betaal het.

By die busdepot word fasiliteite daagliks skoongemaak en personeellede mag nie in gemeenskaplike gebiede soos kombuise saamkom nie.

Die binnekant van die busse word voor en ná elke diensrondte ontsmet.

Om goeie ventilasie te verseker, word alle vensters oopgemaak wanneer die busse die depot verlaat, en die weer dit toelaat. Passasiers word versoek om nie die vensters toe te maak nie.

“Ná die skandering van hul Slimkaarte of die aankoop van ‘n kaartjie by die bestuurder, is passasiers veronderstel om hul hande te ontsmet by die pompie op hul pad in die bus in. As jy dit gedoen het, behoort jy geen vrese te hê weens die bestuurder se gesondheidstatus nie,” sê Robb.

“Hierdie voorval moet passasiers opnuut aanmoedig om getrou en te alle tye aan veiligheidsmaatreëls te voldoen. Dra jou masker, handhaaf sosiale afstand so ver as moontlik, ontsmet jou hande wanneer jy die bus binnegaan en ontsmet of was jou hande nadat jy op ‘n bus gery het. Ons moedig ook passasiers aan om die GO GEORGE Slimkaart te gebruik eerder as kontant, om kontak verder te beperk en verspreiding van die virus te bekamp.”

Die departement van gesondheid bepaal relevante kontak-opsporing en vervul daardie rol. Enige persone wat bekommerd is oor hul gesondheid, kan die COVID-19-noodlyn by 0800 029 999 skakel vir advies oor die stappe wat geneem moet word.

Latest news