Van stink tekkies tot ‘n blik babamelk tot skoolboeke, rugsakke en ‘n hele karton vol SIM-kaarte – dit bly verstommend wat passasiers al alles op die GO GEORGE-busse agtergelaat het. Net inkopies blyk styf vasgehou te word, want ‘n sak vol kruideniersware of nuwe kledingstuk het nog selde ‘n draai by die busdepot se verlore goedere gemaak.
Dit lyk of passasiers te lekker aan die gesels raak, of in hul haas om van die bus af te kom, vergeet waarmee hulle alles opgeklim het. Hoewel passasiers verantwoordelik is vir hul eiendom en die busmaatskappy geen verantwoordelikheid kan neem vir items wat op die bus vergeet word nie, is daar gelukkig ‘n stelsel in plek vir goed wat op die bus gevind word en deur ander passasiers ingehandig word, of aan die einde van ‘n skof deur die personeel op die bus gevind word. Alle verlore of opgetelde goedere word by die busdepot ingedien en gehou ingeval van navrae. Een keer per maand word alles na die GO GEORGE-kantoor geneem waar dit nog ‘n maand gehou word voordat dit aan liefdadigheidsorganisasies geskenk sal word.
“Die reëling om die goedere vir verdienstelike organisasies te gee is ‘n nuwe een, maar die stapels kartonne en plastieksakke vol verlore items raak net te veel vir ons kantoor om te herberg,” sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder. “Die heel beste optrede is om ons inbelkantoor te skakel sodra jy agterkom jy het iets op die bus vergeet. Die agente daar sal met die depot skakel en dadelik terugvoer gee aan die passasier wat iets soek.
“Ons wil dit egter duidelik stel dat GO GEORGE- en George Link-personeel nie beskuldig kan word of verantwoordelik gehou kan word indien ‘n verlore item nie opduik nie. Dit kan baie maklik deur ‘n oneerlike medepassasier geneem word wanneer hulle agterkom dat iets op die bus vergeet is en die eienaar reeds die bus verlaat het,” sê Robb.
Mense wat navraag doen, sal hul verlore besittings baie duidelik moet beskryf voordat dit oorhandig kan word om oneerlikheid uit te skakel. Skakel gerus 0800 044 044 daagliks tussen 06:00 en 21:00.