Vertragings en roeteverandering weens N2-sluiting

17
Oct '18

Die N2 sal op Donderdag 18 Oktober 2018 gesluit wees tussen die Pacaltsdorp- en Garden Route Mall-afritte. Dit is ter voorbereiding van twee baankruisings wat geskep moet word aan albei kante van die voetgangerbrug oor die N2 wat tans onder konstruksie is.

Alle N2-verkeer uit die rigtings van Kaapstad en Knysna sal langs Knysnaweg, Courtenaystraat en Yorkstraat deur George herlei word vir die dag, met verwagte vertragings van alle GO GEORGE-dienste wat hierdie paaie gebruik.

Roete 12 herlei

Roete 12 Pacaltsdorp – Garden Route Mall sal vir die hele dag herlei word. In plaas daarvan om regs te draai op die N2, sal busse reguit aanhou in Yorkstraat en regs draai in Hopestraat by die verkeersirkel, aanhou tot in Memoriumstraat, regs draai in Courtenaystraat en dan regs in die Garden Route Mall-pad. Dieselfde roete sal gevolg word terug Pacaltsdorp toe. Passasiers moet vertragings te wagte wees aangesien dit langer neem om deur die dorp na die Garden Route Mall toe te ry.

Dieselfde reëling sal geld op Maandagaand, 22 Oktober 2018 wanneer verkeer weer deur George herlei sal word sodat die padwerke na die ander kant van die snelweg kan skuif.

Vertragings oor ‘n langer termyn

Intussen, vanaf Vrydag 19 Oktober 2018 vir die volgende ses tot agt weke, sal die baankruisings in die omgewing van die voetgangerbrug vertragings veroorsaak op Roete 12 weens moontlike bottelnekke en ‘n spoedvermindering tot 40 km/uur op hierdie stuk pad. GO GEORGE sal die situasie fyn monitor om vas te stel of dit beter sal wees om Roete 12 ter wille van die busskedule vir die hele tydperk van konstruksie deur die dorp te herlei. Vir eers sal herleiding net plaasvind op Donderdag 18 Oktober 2018 en Maandagaand, 22 Oktober.

Verkeerspolisie sal in plek wees om verkeer te lei en ontwrigting van verkeersvloei te beperk. GO GEORGE maak verskoning vir enige ongerief wat passasiers en ander belanghebbendes mag ondervind en doen ’n beroep op werkgewers om geduldig te wees wanneer personeel opgehou word en laat kom vir werk.

Latest news