Die George-vervoerkern (Hub), ‘n nuwe, moderne passasiersdienssentrum in die middedorp, is met groot opgewondenheid Donderdag, 8 Desember 2016 in gebruik geneem – presies twee jaar nadat die eerste fase van die GO GEORGE-busdiens uitgerol is.
Die indrukwekkende, gerieflike fasiliteit vir passasiers en busdienspersoneel is ontwerp deur plaaslike argitek, Brian Stokes van Brink Stokes Mkhize-argitekte. George se uitvoerende burgemeester, raadsheer Melvin Naik, het Stokes gelukgewens met die uitstaande projek en die uitvoering daarvan binne die tydsraamwerk. “Brian het regtig die ekstra myl geloop om ‘n gebruikers- en omgewingsvriendelike struktuur wat ons topklas busse en diens aanvul, te ontwerp,” het hy gesê.
Konstruksiewerk aan die vervoerkern het in Junie begin en is op skedule afgehandel ten spyte van die uitdaging van busse wat nog tot omtrent ‘n maand voor voltooiing rondom die bouperseel gestop en vertrek het.
‘n Treffende element in die vervoerkern wat dadelik die oog vang, is die 3-meter hoë standbeeld van hergebruikte staal wat ‘n vroulike passasier en kind uitbeeld. Die kunswerk is geskep deur Suid-Kaapse kunstenaar, Boshoff Botha, en is deur burgemeester Naik en Stokes onthul.
Die R15-miljoen- projek maak voorsiening vir ‘n onderdak-sentrum met ses bushaltes en laai-areas, twee ingange, vier hoë-sekuriteit kaartjiekantore, toilette, 231 gemaklike sitplekke, handrelings om passasiers wat wag af te sper van die busse, fietsrakke en skadubome. ‘n Prominente beginsel van die ontwerp is die universele toeganklikheid vir mense met spesiale behoeftes, soos tikrelings vir mense met beperkte visie.
Energiebesparing word meegebring deur natuurlike lig en ventilasie te gebruik, terwyl lae waterverbruik-toilette punte kry aan die groen kant. Die gegalvaniseerde staal-struktuur en afwerkings dra by tot lae instandhoudingskoste.
“Die stadsraad deel die gemeenskap se opgewondenheid en sal alles in ons vermoë doen om te sorg dat dit ‘n veilige omgewing bly vir almal wat die busdiens gebruik,” het Naik gesê. “Terselfdertyd wil ek ‘n beroep doen op inwoners om eienaarskap te neem van die George-vervoerkern. Kom ons wees trots op hierdie pragtige gebou en help om dit skoon en in ‘n puik toestand te hou sodat dit ‘n aangename ruimte sal bly om tyd te verwyl terwyl jy vir ‘n bus wag. George is bevoorreg dat ‘n openbare vervoerdiens van hierdie omvang aan ons toevertrou is. Kom ons koester hierdie groot geskenk en alles wat daarmee saamgaan.”