Ná uitgebreide padopgraderings in Caledonstraat is werk uiteindelik voltooi en die normale GO GEORGE-busroete 56 tussen die middestad en Denneoord sal op Sondag 11 Augustus 2019 hervat word.
Busse is vir die duur van die konstruksiewerk herlei om Symondsstraat in plaas van Caledonstraat te gebruik, en het net in een rigting kloksgewys gery. Roete 56 sal nou terugkeer na normaal en in albei rigtings, kloksgewys en antikloksgewys ry, soos aangedui op die tydroosters. Die vier tydelike bushaltes in Symonds- en Adderleystraat sal nie meer gebruik word sodra die normale roete heringestel word nie.
Passasiers sal in kennis gestel word
GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes sal vanaf 6 tot 8 Augustus saamry op die Denneoord-busse om passasiers in te lig en voor te berei. Hulle sal tydroostergidse beskikbaar hê om uit te deel aan passasiers wat nodig het om hul geheue te verfris met betrekking tot die normale roete en skedules.
Passasiersdiensbeamptes sal ook op Maandag 12 Augustus by die tydelike haltes gestasioneer wees om enige passasiers wat dalk die kennisgewing gemis het, te herlei.
Om die boodskap te versterk, sal plakkate by die betrokke bushaltes in Caledonstraat, die tydelike bushaltes en die Vervoerkern (transport hub) aangebring word.
Vir meer inligting, kontak asseblief die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044, tussen 05:00 en 21:30, sewe dae per week.