GO GEORGE het aangekondig dat daar vanaf Sondag 28 Junie 2020 geen kontant meer op busse aanvaar sal word as ‘n manier om ritte te koop nie. Dit vorm deel van die busdiens se volgehoue pogings om die verspreiding van die Covid-19-virus te bekamp en is reeds sedert die begin van die inperking genoem as ‘n veiligheidsmaatreël wat op ‘n sekere vlak van die pandemie geïmplementeer sal moet word.
Tot verdere kennisgewing sal die GO GEORGE Slimkaart wat 20 maande gelede in gebruik geneem is, die enigste manier wees om te betaal vir ritte. Die koste van die kaart is minimaal – R21 vir ‘n passasier se eerste kaart mét twee voorafgelaaide ritte, waarby ’n bewys van identiteit getoon moet word. Die normale prys van die kaart is R25 en vereis nie bewys van identiteit nie, maar sluit nie enige ritte in nie. Enige persoon kan kaarte vir familie, vriende of werknemers gaan koop en kan selfs gebruik maak van die eerstekaart-aanbod vir mense wie se identiteitsdokumente hulle saamgeneem het.
Waar om ‘n Slimkaart te koop
Slimkaarte word verkoop by die Slimkaartkiosks by die vervoerkern (Transport Hub) in die middedorp, in Yorkstraat langs die burgersentrum, by die Blanco-driehoek en die Garden Route Mall. Twee mobiele Slimkaartvoertuie reis ook deur die dorp en parkeer op bepaalde plekke volgens ‘n vaste weeklikse skedule. Kaarte kan ook herlaai word met ritte by hierdie vaste en mobiele kiosks.
Waar om ritte te herlaai
’n Netwerk van herlaaipunte is gevestig oor die hele dorp, meestal as deel van bestaande besighede, en word voortdurend uitgebrei met nuwe handelaars wat aan boord kom. Hierdie verskaffers herlaai net kaarte en verkoop dit nie. Ritte wat op die Slimkaart gelaai is, was nog altyd en sal steeds aansienlik goedkoper wees as kontantritte wat op die bus gekoop word.
Vind meer inligting oor herlaaipunte of die mobiele voertuie se skedule hier, volg GO GEORGE op Facebook, stuur ‘n e-pos na info@gogeorge.org.za of skakel die inbelsentrum op 0800 044 044.