GO GEORGE-busbestuurder toets positief

GO GEORGE het vandag bevestig dat ‘n busbestuurder wat vir die GO GEORGE-busdiens werk, positief getoets is vir Covid-19.

Volgens James Robb, GO GEORGE-bestuurder, was die busbestuurder se laaste skof Saterdag. “Met aanmelding vir diens het die bestuurder nie enige simptome getoon tydens die standaard siftingsprosedures nie. Toe die drywer die volgende dag onwel voel, het die persoon vir ’n mediese ondersoek en toetsing gegaan. Die positiewe resultaat is gisteraand ontvang, waarna die departemente van gesondheid en arbeid se vereiste protokol gevolg is. Die bestuurder is in isolasie en die departement van gesondheid is tans besig met die opsporing van diegene wat in noue kontak was sodat hulle gekeur en getoets kan word indien nodig,” sê hy.

Robb het bevestig dat dit nie ‘n impak op die huidige vlak van dienste aan passasiers sal hê nie.

John Heathcote, besturende direkteur van George Link, GO GEORGE se voertuigbedryfsmaatskappy, sê standaard Covid-praktyk by die busdepot sluit daaglikse ontsmetting van die fasiliteite in, terwyl busse voor en ná elke diensrondte ontsmet word.

“Op hierdie oomblik is ons besorgdheid by ons kollega en die familie wat ons deur hierdie moeilike tyd ondersteun, en ons voortgesette toewyding om elke enkele veiligheidsmaatreël uit te voer wat nodig is om ons personeel en passasiers te beskerm.

“Die busbestuurder het ten volle aan veiligheidsmaatreëls voldoen en het ‘n masker gedra en hande ontsmet voor en na elke rit. Dit herinner ons weereens almal dat mense oral besmet kan raak en hoe belangrik dit is om te alle tye getrou aan veiligheidsmaatreëls te voldoen – dit is wat ons moet doen vir ons eie veiligheid, en ter wille van elke persoon met wie ons in aanraking kom,” het Heathcote gesê.

Hy het verder opgemerk dat George Link deur die George-distrik se Covid-opsporingspan gelukgewens is met die wyse waarop hulle die situasie hanteer, en hoe goed hulle voorbereid is met alles wat nodig is in plek. Intussen bly George Link en GO GEORGE in gereelde kontak met die departement van gesondheid en werk saam met die opsporingspan waar nodig.

Veiligheidsmaatreëls

Bestuurders is verplig om altyd maskers te dra wanneer hulle werk, soos bepaal deur die regulasies van die Rampbestuurswet. Hulle ontsmet hul hande tydens elke stop sodra al die passasiers aan boord is en klaar betaal het.

By die busdepot word fasiliteite daagliks skoongemaak en personeellede mag nie in gemeenskaplike gebiede soos kombuise saamkom nie.

Die binnekant van die busse word voor en ná elke diensrondte ontsmet.

Om goeie ventilasie te verseker, word alle vensters oopgemaak wanneer die busse die depot verlaat, en die weer dit toelaat. Passasiers word versoek om nie die vensters toe te maak nie.

Passasiers se veiligheid

Robb doen ‘n beroep op alle passasiers om verantwoordelikheid vir hul eie gesondheid en veiligheid te neem. “Terwyl ons alles doen wat ons kan binne die beperkinge van ‘n openbare vervoerdiens tydens ‘n pandemie, bly dit die veiligste om alternatiewe reëlings te tref en nie openbare vervoer te gebruik nie, maar diegene wat die bus móét gebruik, moet baie versigtig wees deur maskers te dra, sosiale afstand so ver as moontlik te handhaaf, en hul hande te ontsmet wanneer hulle in die bus klim en weer nadat hulle afgeklim het. Ons moedig passasiers aan om die GO GEORGE Slimkaart eerder as kontant te gebruik, om kontak verder te beperk en die verspreiding van die virus te bekamp,” sê hy.


Previous Article

Next Article