GO GEORGE herlei Rosemoor-roete om munisipale herstelwerk te akkommodeer

17
Jan '20
GO GEORGE herlei roete 53 kaart AFR
Kaart van herleide Rosemoor-roete tydens munisipale herstelwerk.

Die GO GEORGE-busdiens sal tydelike veranderinge aan Roete 53 Rosemoor – CBD maak om dringende herstelwerk aan ‘n ondergrondse rioolpyp op die hoek van Parkweg en Vyfde Straat te akkommodeer. Die herleiding sal Maandagoggend, 20 Januarie 2020 geïmplementeer word en sal hopelik nie langer as drie dae duur nie, afhangende van die omvang van die werk.

Normale verkeer sal toegelaat word om die betrokke strate te gebruik, maar swaar voertuie, wat GO GEORGE-busse insluit, sal herlei word.

Herleide roete

Op pad met Parkweg vanaf die Garden Route Mall in die rigting van die middedorp, sal die roete links draai in Triomfstraat om die hoek waar die herstelwerk gedoen word, te vermy. Uit Triomf sal die bus regs draai in Millerstraat en by die normale roete aansluit wanneer dit links draai in St Marystraat. Dieselfde roete sal van toepassing wees op die terugrit vanaf die middedorp na Rosemoor.

Tydelike bushaltes

Bushaltes Triumph 204, Swaardlelie (albei kante van die straat), Park (albei kante van die straat) en Miller 211 sal uitgeskakel word deur die herleiding. Vier tydelike haltes sal egter op die herleide roete opgerig word vir passasiers se gerief.

“Champions” by bushaltes om passasiers te help

GO GEORGE “champions” sal by die geslote bushaltes wees om vir passasiers aan te dui waar die naaste alternatiewe bushalte is en sal ook vooraf pamflette met aanwysings uitdeel.

Passasiers wat hulp benodig met ritbeplanning is welkom om die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 te skakel vir hulp. Volle besonderhede is ook te sien op GO GEORGE se Facebook-blad.

Latest news