GO GEORGE-roetes herlei gedurende Liggiesfees

GO GEORGE Mascots

Die twee gewilde GO GEORGE-gelukbringers, Georgie en Smartie, gaan by die Liggiesfees wees om bewonderaars te ontmoet en vir selfies te poseer.

GO GEORGE sal sekere aanpassings maak aan roetes om die jaarlikse Liggiesfees eerskomende Saterdag, 14 Desember 2019, te akkommodeer. Diensure sal nie verleng word later as die normale skedule nie.

Yorkstraat sal Saterdag vanaf 10:00 tot 00:00 gesluit wees tussen Hiberniastraat en die sirkel voor die George-museum. Die Denneoord-, Rosemoor- en Pacaltsdorp-roetes sal gevolglik vanaf 10:00 daardie deel van Yorkstraat uitskakel. Die noordelike bane van die sirkel sal oop bly vir verkeer en as enkelbane in beide rigtings gebruik word.
Alle bushaltes in Yorkstraat tussen Hiberniastraat en die sirkel sal tydelik gesluit wees tydens die padsluiting, met herleiding van die busroetes om so min as moontlik ongerief te veroorsaak. Die Market-bushaltes voor die poskantoor sal wel oop wees vir gebruik deur Roete 2 Blanco – CBD.

Plakkate is aangebring by die bushaltes wat tydens die fees gesluit sal word om passasiers betyds te waarsku, terwyl die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes pamflette met roetekaarte en besonderhede van die ompaaie op geaffekteerde roetes versprei het. Die pamflette dui ook aan waar die bushaltes naaste aan die fees is, indien passasiers met die bus fees toe wil ry.

Haal ’n bus huis toe voor 21:00

Inwoners word aangemoedig om van die busdiens gebruik te maak om die feesviering in Yorkstraat en by Eenheidspark by te woon. Passasiers word egter herinner dat die laaste busse tussen 20:00 en 21:00 sal vertrek, volgens hul normale laaste rit-skedule, en dat feesgangers nie tot 21:00 moet wag om plek op ’n bus te probeer kry nie.

Vir enige navrae oor skedules kan passasiers gerus die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044 skakel of die GO GEORGE Facebook-blad of webblad besoek waar volledige inligting oor die roete-aanpassings beskikbaar is.


Previous Article

Next Article