Munisipaliteit kondig GO GEORGE-tariefverhoging aan

6
Jul '20
Hold your card here
Passasiers moet’n GO GEORGE Slimkaart met ritte hê om op die bus te ry. Geen kontant word tans op die busse toegelaat as betaalmiddel vir ’n busrit nie.

Meer opsies vir die laai van ritte op Slimkaart

Die George-munisipaliteit het die jaarlikse aanpassing van die GO GEORGE-bustariewe wat op 19 Julie 2020 geïmplementeer sal word, aangekondig. Die verhoging vorm deel van die jaarlikse munisipale tariefaanpassings.

Laai nou enkelrit op Slimkaart

Ter wille van passasiers wat nie gereeld bus ry nie en nie kan bekostig om meer as een rit op ‘n slag te koop nie, word die opsie om ‘n enkele rit op die Slimkaart te laai terselfdertyd bekendgestel. Hierdie enkelrit sal R12 kos.

Bundels met meer ritte bly egter die beste koop. Slimkaartritte in bundels van 10 of meer sal met slegs 50c per rit verhoog tot R10, en bundels van minder as 10 ritte sal R11 per rit kos (ook ‘n verhoging van 50c).

Buiten om geld te spaar, word passasiers vir hul eie veiligheid aangemoedig om genoeg ritte op ‘n slag op hul kaarte te laai om ‘n rukkie te hou. Dit is verkieslik om tydens die Covid-19-pandemie nie elke paar dae in rye by ‘n kiosk of herlaaipunt te gaan staan nie.

Oorklim teen geen koste

In ag genome dat passasiers binne een uur nadat hulle op die eerste bus geklim het, kosteloos kan oorklim op soveel busse as wat nodig is om hul bestemming te bereik, bly GO GEORGE een van die mees bekostigbare vorms van vervoer in George.

Slimkaartpryse

Om vir die eerste keer ‘n kaart te koop, kos R22 (bewys van identiteit word vir hierdie spesiale aanbod vereis), en sluit twee voorafgelaaide ritte in. Die normale prys van die kaart is R25, geen bewys van identiteit word vereis nie, en dit sluit nie enige ritte in nie. Enige persoon word toegelaat om kaarte vir familie, vriende of werknemers te koop en kan selfs gebruik maak van die eerstekaart-aanbod vir mense wie se identiteitsdokumente of geboortesertifikate hulle saamgebring het.

Ritte wat op ‘n Slimkaart gelaai is, verval nooit nie. Dit beteken dat enige ritte wat voor die tariefverhoging gekoop word, daarna steeds geldig is.

Vir meer inligting, skakel gerus die GO GEORGE inbelsentrum by 0800 044 044, of stuur ‘n e-pos aan info@gogeorge.org.za.

Latest news