Terwyl die GO GEORGE-passasiersdiensbeamptes (alom bekend as champions) al ’n rukkie besig is om inwoners in Parkdene, Ballotsview, Conville, Borcherds en Lawaaikamp in te lig oor die busdiens wat op 22 Maart 2020 nuwe roetes in die gebied ontplooi, begin busbestuurders ook met roete-opleiding vanaf Woensdag 11 Maart tot en met implementering.
“Dit sal sekerlik opwindend wees om die busse vir die eerste keer in die area te sien rondry, maar inwoners moet kennis neem dat hierdie slegs oefenritte ter voorbereiding vir die groot dag op 22 Maart is en dat busse nie passasiers sal oplaai nie,” sê GO GEORGE-bestuurder, James Robb.
Die vier roetes bestaan uit drie hoofroetes, Parkdene – CBD (roete 15), Parkdene – Garden Route Mall (roete 16), Parkdene – Blanco (roete 18), en ‘n omvattende gemeenskapsroete (roete 51). Dit sal hierdie woonbuurte verbind met bestaande GO GEORGE-roetes wat in en tussen die middedorp, Pacaltsdorp, Denneoord, Loeriepark, Rosemoor, Blanco, Heatherlands, Heatherpark en die Garden Route Mall ry.