Skoonmaak van GO GEORGE-busse tydens COVID-19 krisis

3
May '20
Bus cleaning

Alle GO GEORGE-rolspelers is volskaals besig met die implementering van verskeie strategieë om die verspreiding van die Covid-19-virus te voorkom, insluitend die ontsmetting van die busse.
Ten spyte van vooraf voorbereidings kan sekere maatreëls in ‘n wêreldwye krisissituasie soos hierdie slegs gefinaliseer word sodra ‘n rampaankondiging gemaak is. Terwyl die presiese bepalings vir geskikte skoonmaakmiddels gefinaliseer word, het George Link solank hul skoonmaakproses grootliks uitgebrei met skoonmaakpersoneel wat dubbele skofte, 16 uur per dag, werk. ‘n Bykomende proses om die binnekant van elke bus na elke skof met ontsmettende chemikalieë skoon te vee, is ook geïmplementeer. Om die krisis-reinigingsprogram verder te verbeter, is ‘n spesiale stoomreiniger bestel, wat ook deel van die normale skoonmaakskedule van die busse sal vorm nadat die krisis is verby.

* Dit is belangrik om daarop te let dat ‘n vuil bus nie noodwendig ‘n besoedelde bus is nie, en ‘n skoon bus is nie noodwendig ‘n kiemvrye bus nie.

GO GEORGE wil die gemeenskap van George en ons gewaardeerde passasiers verseker dat ons alles in ons vermoë doen om by te dra tot hul veiligheid wanneer hulle ons busdiens gebruik. Ons moet egter beklemtoon dat elke individu verantwoordelikheid moet neem vir hul eie gesondheid en veiligheid deur te hou by enige voorkomende instruksies wat deur die regering uitgereik word. Tydens ‘n krisis van hierdie aard, is openbare vervoer ‘n hoë risiko-omgewing en passasiers word versoek om net te reis indien dit noodsaaklik is en waar moontlik, tydens nie-spitstye, om kontak te beperk.

Daarbenewens is ‘n krisis-reaksieplan ontwikkel met toenemende vlakke van voorsorgmaatreëls wat GO GEORGE voortdurend sal assesseer en implementeer soos die krisis ontwikkel. Passasiers sal op hoogte gehou word namate die situasie verander.

Latest news